Browse Results

Showing 1 through 25 of 87 results

Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate

by Ebbe Dommisse

Die ongekende sukses van Afrikaner-sakelui het die afgelope drie dekades verras en verstom. ’n Aantal is vandag dollar-miljardêrs met uitgebreide internasionale belange. Die opkoms van die Afrikaner-magnaat is veral merkwaardig in die lig van die regering se omvattende program van swart ekonomiese bemagtiging.Onder leiding van Koos Bekker het Naspers die Johannesburgse aandelebeurs begin domineer en is dié mediagroep tot ’n internasionale beleggingshouergroep omvorm. Johann Rupert het Richemont as die naasgrootste groep in die mark vir luukse goedere gevestig, terwyl Christo Wiese en Whitey Basson onderskeidelik Pepkor en Shoprite tot die grootste kleinhandelgroepe in klerasie en voedsel in Afrika uitgebou het.Fortuine verklap waarom alles wat sakeleiers soos Jannie Mouton, Michiel le Roux, GT Ferreira, Johan van Zyl, Douw Steyn en ’n aantal megaboere aanraak skynbaar in goud verander. Dit ondersoek ook die sensasionele ineenstorting van Steinhoff Internasionaal onder Markus Jooste, waardeur soveel welvaart uitgewis is.’n Onthullende boek, wat hoofsaaklik op persoonlike onderhoude gebaseer is en lig werp op die werksetiek, strategiese vennootskappe en aptyt vir risiko wat hierdie groep Afrikaners die reënmakers van die ekonomie maak.

Churchill & Smuts: Die vriendskap

by Richard Steyn

Die eiesoortige vriendskap tussen Winston Churchill en Jan Smuts is 'n studie in kontraste. In hul jeug het hulle uiteenlopende wêrelde bewoon: Churchill was die weerbarstige en energieke jong aristokraat; Smuts die asketiese, filosofiese Kaapse plaasseun, wat later aan Cambridge sou gaan studeer. Daar sou hy die eerste student word wat albei dele van die finale regskursus in dieselfde jaar neem en al twee met onderskeiding slaag.Nadat hulle in die Anglo-Boereoorlog eers as vyande, en later in die Eerste Wêreldoorlog as bondgenote byeengebring is, het die mans 'n vriendskap gesmee wat oor die eerste helfte van die twintigste eeu gestrek het en tot Smuts se dood in 1950 voortgeduur het. Richard Steyn, die skrywer van Jan Smuts: Afrikaner sonder grense, bestudeer dié hegte vriendskap deur twee wêreldoorloë aan die hand van ’n magdom argiefstukke, briewe, telegramme en die omvangryke boeke wat oor albei mans geskryf is.Dit is 'n fassinerende verhaal oor twee besonderse individue in oorlog en vrede – die een die leier van ’n groot ryk, die ander die leier van 'n klein, weerspannige lid van daardie ryk.

Terreur en Bevryding: Die ANC/SAKP, die Kommunisme en geweld (1961-1990)

by Leopold Scholtz

Wie vandag se ANC, sy beleid en regeerstyl wil verstaan, moet feitlik ’n eeu terug begin delf. ’n Deel van die antwoord lê in sy verhouding met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die invloed van die kommunisme, asook die ANC/SAKP se optrede in ballingskap, skryf die politieke kommentator en historikus Leopold Scholtz.In Terreur en bevryding toon hy aan hoe die SAKP reeds in 1928 opdrag van die Kremlin ontvang het om die ANC te infiltreer. Die doel was om mettertyd die partyleiding oor te neem as deel van ’n beoogde revolusie in twee fases: ’n nasionaal demokratiese revolusie – ’n konsep wat steeds deel is van ANC-beleid – gevolg deur ’n Marxisties-Leninistiese “diktatuur van die proletariaat”. Volgens Scholtz sou dit ’n immorele stelsel met beperkte vryheid meebring.Dit was ook die SAKP wat die dryfveer agter die gewapende stryd was.Scholtz plaas die kollig op die dodelike kombinasie van erge interne intoleransie en onbekwaamheid binne die ANC/SAKP in ballingskap, die korrupsie deur ’n deel van die leierskorps en die ernstige menseregtevergrype in die ANC se buitelandse kampe. Hy voer aan dat dit wat tans in Suid-Afrika op al drie regeringsvlakke gebeur ’n voortsetting is van ’n kultuur wat al tydens die alliansie se jare in ballingskap gevestig is.

Afrikaner-Sondebok?: Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwag-leier

by Albert Blake

In die vroeë 1940’s het die charismatiese Hans van Rensburg duisende volgelinge na die Ossewabrandwag gelok en die regering van Jan Smuts gekonfronteer oor sy deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Onder sy leierskap word etlike sabotasiedade deur die Stormjaers en Terreurgroep, die OB se militêre vleuels, gepleeg. Van Rensburg het ook in die geheim kontak met die Duitse regering gemaak.Teen 1940 was Van Rensburg egter nog deel van die regering: As die jongste sekretaris van justisie ooit en administrateur van ’n provinsie is hy as ’n goue seun van die politiek beskou. Waarom was hy só vurig oor die ideaal van ’n onafhanklike republiek dat hy dit alles prysgegee het en ’n koers ingeslaan het wat uiteindelik van hom ’n verstoteling sou maak?Van Rensburg word dikwels as ’n verbete Afrikanerfascis beskryf, maar die werklikheid is meer kompleks. In hierdie biografie belig Albert Blake die vele kante van ’n man wat nie net bekend was as regsgeleerde, filosoof en taalkundige nie, maar ook as uitstaande militaris en wildjagter.Op die hoogtepunt van sy gewildheid kon geen ander Afrikanerleier by die begaafde Van Rensburg kers vashou nie. Blake ondersoek waarom hy uiteindelik egter die stryd om die hart van die Afrikaner sou verloor.

Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman

by Richard Steyn

“Hy was een van die grootste geeste ter wêreld.” – Winston ChurchillLouis Botha was ʼn briljante Boeregeneraal wie se taktiese vernuf en intuïtiewe aanslag op die front vir etlike oorwinnings oor die Britse magte gesorg het. Maar dit was sy engimatiese karakter en vaste oortuiging om to hou by wat hy geglo het reg was, wat hom as ʼn leier van die Boerevolk bevestig het.Richard Steyn gee op meesterlike wyse insae in die lewe van hierdie grootse Suid-Afrikaanse krygsman en staatsman. Hy beskryf verhelderend hoe Botha saam met sy hegte vriend, Jan Smuts, die vier Suid-Afrikaanse kolonies na Uniewording in 1910 gelei het.Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was hy aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse magte se suksesvolle inval van Duits-Suidwes-Afrika, wat tekenend was van sy onwrikbare oortuiging dat ʼn man daad by woord moet voeg. Tog is hy deur talle Afrikaners verkwalik vir sy steun aan Brittanje, en die Afrikaner-rebellie, waartydens hy teen voormalige makkers moes optree, het sy hart gebreek.Botha se groothartige en vrygewige omgang met mense – van Vereeniging tot Versailles – het home bo sy tydgenote laat uitstaan. Die boek weerstaan die versoeking om sy lewe deur moderne lense to evalueer en probeer eerder om die konteks van die politiek van sy tyd verduidelik.

Die boek van twee weë

by Jodi Picoult

In die splitsekonde wat sy met haar eie dood gekonfronteer word, verander alles in Dawn Edelstein se lewe. Sy is op ’n vliegtuig wanneer die aankondiging kom: Maak gereed vir ’n noodlanding.Terwyl sy haar op die ergste voorberei, is haar gedagtes egter nie by haar eggenoot en dogter nie, maar by Wyatt Armstrong – ’n man wat sy 15 jaar tevore in Egipte agtergelaat het. Dawn oorleef die vliegtuigongeluk op wonderbaarlike wyse, maar word daarna deur groot onsekerhede gery.Sy het ’n goeie lewe in Boston en sy vind vervulling in haar werk as doodsdoula of sterwensbegeleier. Tog kan sy nie help om te wonder wat geword het van Wyatt en sy werk as argeoloog nie. As jong studente het hulle saam opgrawings gedoen totdat Dawn weens ’n persoonlike krisis terug is na Amerika.Moet sy terugkeer na haar voorstedelike lewe en haar gesin? Of na Egipte gaan om die spoke van die verlede te konfronteer en dalk haar navorsing oor die boek van twee weë, ’n kaart van die antieke Egiptiese onderwêreld, te voltooi?Soos die verhaal ontvou, moet Dawn antwoorde op talle tergende vrae vind: Wat behels ’n goeie lewe en wat laat ons agter wanneer ons sterf? Hoeveel van ons lewenskeuses is regtig ons eie en hoeveel maak die lewe namens ons?

Amper Frans: ʼn Lewe van fanfare en faux pas

by Louis Jansen van Vuuren

Toe hy jare gelede vir die eerste keer in Parys aankom, sou die kunstenaar Louis Jansen Van Vuuren nooit kon dink dat hy eendag ʼn château in die Franse platteland sou besit nie.In Amper Frans vertel hy hoe hy die plaaslike tradisies en kultuur die afgelope 21 jaar ontdek her – daar is stories oor statige hertoginne en neusoptrekkerige kelners, die berugte Franse burokrasie en dan ook sy talle faux pas in die Fanse taal.Om die vervalle Château de la Creuzette saam met sy lewensmaat, Hardy Olivier, in ʼn boetiekhotel te omskep het groot Geduld en uithouvermoë geverg. Talle lesse is op die harder manier geleer, soos dat vier verwarmers nie genoeg s om ʼn hele château to verhit nie …Louis verklap ook iets van hul gaste se kaskenades en van hul eie reise soos hulle die land platry agter vlooimarkte en avontuur aan. Die boek is ʼn moet vir alle Frankofiele.

Die Brug: Na die hel en terug in Angola

by Deon Lamprecht

In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oop gesigseuns vol bravade voor hul Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljon Groep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doods akker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing.Ná die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie. In 2018 keer ’n groep van dié ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het.Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.

Negentien Minute

by Jodi Picoult

“Hoe goed ken ’n mens werklik jou gesinslede of enigiemand anders? Hoe vernietigend is groepsdruk, hoe intimiderend die behoefte aan tuishoort?” – Deborah Steinmair, joernalis en skrywer.Nadat hy jare lank wreed verbaal en fisiek deur klasmaats geboelie is, knak die 17-jarige Peter Houghton een oggend. Binne slegs negentien minute sterf tien inwoners van die dorp Sterling in Amerika.Die geskokte gemeenskap is vasberade dat geregtigheid moet geskied. Soos die hofsaak ontvou en Peter getuienis lewer, kom dit egter aan die lig dat die inwoners van Sterling ’n rol daarin gespeel het om ’n innemende, liefdevolle seun in ’n massamoordenaar te laat verander.In ’n era waarin boeliegedrag toenemend ’n probleem is, ook in Suid-Afrika, bring hierdie meesleurende boek talle insigte vir ouers, onderwysers en tieners.

In Christus: Van toeskouer tot spoortrapper

by Callie Roos

“God is nie een of ander control freak nie … Hy laat die gelowige self keuses maak en self verantwoordelikheid neem.”Wat beteken dit om vandag ’n Christen to wees? Dit is lankal nie meer genoeg om blindelings net Sondag ná Sondag die erediens by te woon nie, sê die geestelike leier and oudsoldaat Callie Roos. Dit is slegs deur ’n lewe in Christus da tons werklik God se krag in ons kan beleef.Volgens Callie beleef die kerk vandag ’n krisis en georganiseerde godsdiens hou gelowiges gevange in dogma en ’n behoefte aan beheer. Christene moet onstnap uit die geestelike tronk wat hulle inperk en hul bestaande begripsraamwerk bevraagteken.’n Lewe in Christus behels dat jy uitgaan in die wêreld en daadwerklik ’n verskil maak. Wanneer gewone Christen-mense Christus word vir ander, kan hierdie nuwe manier van glo ’n massabeweging word wat die ganse mensdom ten diepste sal aangryp.In Christus beloof om te inspireer en gelowiges nuut oor hul Christenskap te laat dink.

Recce-resepte: Vir kos, die bos, die lewe

by Justin Vermaak Douw Steyn

Aasvoëlsop, enigiemand? Of wat van vlieënde vis vir voorgereg met gebraaide luislang vir hoofgereg?Recce-resepte vir kos, die bos, die lewe is vol tong-in-die-kies resepte en stories oor die Recces se ervarings gedurende die Grensoorlogjare en tot 1997. Die boek plaas jou in die skoene van hierdie legendariese en geheimsinninge Spesiale Magte-operaters. Ontdek wat dit verg om vir weke aaneen uit 'n rugsak te leef, hoe om te oorleef op dit wat die natuur versaf en selfs hoe om 'n leeu kaalhand van 'n karkas te verjaaf. Die stories oor hul waaghalsige operasies gedurende die eerste 25 jaar van die Spesiale Magte vat jou van Durban na Langebaan en deur Phalaborwa na die res van Afrika en selfs Rusland.Hulle verklap boonop hul unieke filosofie – bly in die oomblik, pas aan en doen jou ding! Of staan opsy, want die Recces kom verby …WAARSKUWING: Hoewel die meeste resepte eetbaar is, moet sommige nooit, ooit herhaal word nie.

Op Pad in Suid-Afrika: Verken Suid-Afrika streek vir streek

by BPJ Erasmus

Suid-Afrika se ontsaglike diversiteit - van Pofadder, eMkhuze en Haenertsburg tot Cookhouse, Klipplaat, Maokeng en Taung -is wat mens besiel om die pad te vat en die land te verken. Hierdie volledig hersiene en bygewerkte uitgawe van Op Pad in Suid-Afrika het 'n vars, kontemporêre voorkoms, maar bevat al die kenmerke wat dit so 'n klassieke werk maak. Die vorige twee uitgawes het 'n spesiale plek in die harte van Suid-Afrikaners, en dit is maklik om te sien waarom: geen ander reisgids op die mark bied sulke omvattende en diepgaande inligting oor die dorpies, dorpe en stede van hierdie land nie, en ook nie oor die interessante en insiggewende stories wat hulle vertel nie.Die 37 hoofstukke is in 'n logiese volgorde gerangskik wat by Kaapstad begin en daarvandaan uitkring. Elke hoofstuk handel oor 'n gevestigde en samehangende geografiese of demografiese gebied. Duidelike, gedetailleerde streekkaarte met bygewerkte plekname is ingesluit en word aangevul deur roete-aanwysings in die teks. Die boek bied iets vir almal - of dit die lieflike groen valleie van die Kaapse hinterland, die uitgestrekte vlaktes van die Karoo, die kulturele en skilderagtige diversiteit van die Tuinroete en Wildekus, die geskiedkundige slagvelde van KwaZulu-Natal, die wildryke Laeveld of die natuurwonders van die Bosveld is wat jou lok. Met die nuut hersiene en bygewerkte teks en meer as 500 foto's bevat Op Pad in Suid-Afrika 'n verstommende rykdom inligting, wat dit die perfekte reisbeplanner en reisgenoot maak.

Ystervuis Uit Die See: Hoogs Geheime Seewaartse Recce-Operasies (1978-1988)

by Arne Soderlund Douw Steyn

Gedurende die Grensoorlog het die Spesiale Magte se 4 Verkennings regiment tientalle klandestiene seewaartse operasies op vaartuie van die Suid-Afrikaanse Vloot uitgevoer. Van Cabinda in Angola tot Dar es Salaam in Tanzanië het hulle strategiese teikens soos oliedepots, vervoerinfrastruktuur en selfs Russiese skepe aangeval. Die bestaan van 4 Recce is grootliks geheim gehou, selfs binne die Suid-Afrikaanse Weermag.Ystervuis uit die see beskryf 50 operasies deur 4 Recce, ander Spesmagte-eenhede en die SA Vloot. Daaronder tel Operasie Kerslig (1981), waarin ’n operateur gesterf en ander beseer is in ’n aanval op ’n olieraffinadery in Luanda, en Operasie Argon (1985) toe kaptein Wynand du Toit in Angola gevange geneem is.Die skrywers, wat self aan etlike van die operasies deelgeneem het, het ook toegang gekry tot uiters geheime dokumente wat intussen gedeklassiffiseer is. Hul dramatiese vertellings wys hoe veelsydig en doeltreffend hierdie elite-eenheid was.Dié omvattende boek is ’n moet vir enigeen met ’n belangstelling in die Spesmagte. Dit neem jou na die hart van die aksie, die adrenalien en vrees van seewaartse operasies.

Doodsbleek (Berlin Noir)

by Philip Kerr

In Die bleek oortreder moet die gesoute speurder Bernie Günther ’n reeksmoordenaar vastrek wat paniek regoor Berlyn saai.Dit is 1938 en Duitsland wag angstig op die bevindinge van die München-konferensie. Onsekerheid hang in die lug: Hitler kan Europa dalk in ’n oorlog dompel. Vir Bernie is daar egter belangriker sake wat aandag verg. Hy ondersoek twee sake waar afpersing betrokke is: die een betrek ’n ryk weduwee, en die ander, homself.Terselfdertyd het dit op die lappe gekom dat die Kripo – Berlyn se misdaadpolisie – ’n onskuldige Jood gearresteer het vir die reeks wrede moorde in die stad. En hoewel die Kripo dié keer alles sal doen om die regte moordenaar vas te trek, is hulle weereens nie verhewe bo afpersing en manipulasie nie. Omdat Bernie onlangs aangestel is as Kripo-kommissar, moet hy die raaisel oplos – ’n ondersoek wat hom uiteindelik aan die heel donkerste kant van die menslike psige blootstel.Hierdie vertaling van The Pale Criminal is die tweede boek in Philip Kerr se Berlin Noir-trilogie, nou vir die eerste keer beskikbaar in Afrikaans. Die vertaling van die derde boek in die reeks, A German Requiem, verskyn in 2019.

My Ballerina Droom: ’n Ware verhaal

by Michaela DePrince Elaine DePrince

Michaela DePrince was ’n driejarige oorlogwesie in Sierra Leone toe sy op ’n dag ’n windverwaaide tydskrif optel met die foto van ’n glimlaggende ballerina op die voorblad. Daardie dag het haar obsessie met ballet begin. Sy het haarself daar en dan voorgeneem sy sou eendag ook so gelukkig soos die vrou op die foto wees. Sy is kort daarna deur ’n Amerikaanse gesin aangeneem. Sy het egter nooit die foto van die ballerina vergeet nie. Toe haar nuwe ma bewus word van haar belangstelling in ballet het sy begin klasse neem. Sedertdien het sy nog nooit ophou dans nie en vandag is sy ’n hoogs suksesvolle ballerina. ’n Storie wat enige jong meisie (of seun) sal inspireer om groot te droom.

Van Skoolbank tot bordeelbed: Gebasseer op 'n ware verhaal van geloof en oorwinning

by Jaco Hough-Coetzee

As 16-jarigevlug Engela na Bloemfontein, want die leier van die Sataniese Groep 13 wil haar doodmaak. Haar paaie kruis met dié van Pieter, vriend van haar broer, wat haar aan bordeel-eienaar uitlewer as betaling vir die geld wat hy hom skuld. Na haglike en armoedige kinderlewe raak Engela as rebelse tiener deurmekaar met Satanisme, drank en dwelms en word uiteindelik as seksslaaf aangehou. Haar enigste begeerte is om te ontsnap, maar hoe? Elke aand word die klub se deure dig gesluit. Haar laaste kans op vryheid is die jong student, Jacques, wat in die ontvangslokaal van die klub werk. Maar dan verdwyn hy ook uit die prentjie na raaiselagtige ongeluk in die Drakensberge. Van Skoolbank tot Bordeelbed is spanningsroman deur Jaco Hough-Coetzee, gebaseer op die aangrypende lewensverhaal van Elanie Kruger. In die tweede gedeelte van die boek gesels Elanie self met die leser oor haar bittere ervarings. Sy vertel hoe sy haar gevoelens van verlorendheid, alleenheid, pyn en vernedering vanuit Christelike perspektief leer hanteer het. Sy reik uit na ander gewese seksslagoffers en moedig hulle aan om hul harte uit te stort om emosionele genesing mee te bring. Sy praat oor die krag van vergifnis en aanvaarding, en gee ook lewensbelangrike praktiese wenke aan ouers en kinders.

Suikervry: 8 Weke na Vryheid van Suiker en Koolhidraatverslawing

by Karen Thomson

Suikervry is die eerste selfhelpboek wat in Suid-Afrika geskryf is om mense met 'n suiker- en koolhidraat-verslawing te help om dit te bowe te kom. Dit is deur Karen Thomson en Kerry Hammerton met die steun van die dieetkundige Tamzyn Campbell geskryf, en daar is 'n voorwoord deur prof. Tim Noakes. Dit staan eetgewoontes met min koolhidrate en meer vet voor. Dit is die enigste beskikbare boek wat die emosionele en gedragspatrone van 'n suiker- en koolhidraat-verslaafde aanspreek. Vir baie mense is dit nie genoeg dat hulle bloot weet wat om te eet nie. Suikervry spreek dié saak aan. Bo en behalwe 'n program van agt weke lank, bevat Suikervry ook persoonlike verhale van verslawing, maaltydprogramme en resepte sonder suiker.

Ratels aan die Lomba: Die storie van Charlie-eskadron

by Leopold Scholtz

Op 3 Oktober 1987 het Charlie-eskadron - die ystervuis van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep - op die Lombarivier in die suide van Angola teen 'n veel groter Angolese mag met beter wapentuig as hulle te staan gekom. Tenks is veronderstel teen tenks aangewend moes word. Tog moes die jong dienspligtiges die Angolese tenks van 47 Brigade in Ratels met minder kragtige kanonne en dun pantser aanvat. Boonop was die terrein so dig bebos dat hulle net enkele meter ver kon sien en moeilik kon beweeg.Leopold Scholtz se beskrywing van hierdie Dawid teen Goliat-geveg tydens Operasie Moduler neem die leser na die hart van die aksie. Danksy onderhoude met veterane en dagboekinskrywings dra hierdie intense hervertelling die volle drama van die geveg en ander ervarings aan die front oor. Dit is 'n diep menslike verhaal oor hoe individue reageer in die aangesig van die dood en ook hoe die oorlog hulle nooit uit sy kloue gelaat het nie...

Witboy in Berlyn: Avonture in die Eerste Wêreld

by Deon Maas

“Die honde en kinders verstaan Duits, maar ek nie.”Toe sy vrou werk kry in Duitsland, besluit Deon Maas in ’n oogwink om Berlyn toe te trek. In hierdie intellektueel stimulerende, dekadente stad voel hy hom op sekere maniere dadelik tuis – op ander nie.In die reis wat alle immigrante meemaak, ontdek hy meer oor homself en sy wortels terwyl hy sy voete in sy nuwe omgewing vind. Hy verwonder hom aan tipies Duitse gewoontes soos dat alle oorsese televisieprogramme (swak) oorgeklank word en dat die Duitsers hul sin vir ordelikheid op alles en almal afdwing.Op sy avonture ontmoet hy veganistiese anargiste, sokkerboewe, ’n lid van ’n satiriese Duitse politieke party en neem hy selfs aan ’n protesoptog deel.Maas ontdek dat alles nie perfek werk in die Eerste Wêreld nie. Mense daar sukkel om probleme op te los oor alles so streng gereguleer is en hulle weet nie eintlik hoe om die uit-dagings te hanteer wat toenemende immigrasie veroorsaak nie.Hy probeer ook antwoorde vind op vrae oor verlies, oor identiteit en hoe om as ’n wit immigrant uit Afrika in Europa in te pas. Maas besef al is hy op papier dalk iets van ’n Duitser danksy sy Duitse stamouers, is hy eintlik iemand heeltemal anders. Iemand wat in wese van Afrika is.

501 Lekkerlag Grappe

by Andre Brink

Van ou Koos se manewales tot die dom blondine se eskapades, van dierekaperjolle tot plaasplesiere, k(l)askenades tot kantoorpret ... 501 Lekkerlag-grappe is propvol staaltjies en verhaaltjies wat jou sal laat kraai van die lag! Dié boek bevat ’n mengsel van tradisionele Afrikaanse grappe, maar sal jou ook met nuwes laat hoes en proes. Lag luidkeels, uit jou maag, en geniet die ou bekendes se amusante avonture. Lekkerlag-grappe is ’n onontbeerlike grapgids, ’n móét vir elke huis!

Die Belydenis

by Jodi Picoult

Die ontdekking van ’n dooie baba in ’n skuur op ’n Amiese plaas in Amerika dreig om ’n jong vrou se lewe te verwoes.Omstandigheidsgetuienis dui daarop dat die 18-jarige Katie Fisher, ’n ongetroude Amiese meisie wat glo die pasgeborene se ma is, vir die moord verantwoordelik is. Katie hou vol: sy het nie die baba vermoor nie.Terselfdertyd vlug Ellie Hathaway, ’n ontnugterde advokaat, na familie wat in dieselfde streek woon om haar kop skoon te maak. Haar tannie is verwant aan Katie en kort voor lank stem Ellie teensinnig in om Katie te verdedig.Ellie word as Katie se toesighouer aangestel terwyl sy op borgtog is en moet boonop by die Fishers intrek. Om Katie te verdedig, moet Ellie haar nie net diep ingrawe in ’n wêreld wat radikaal van haar eie verskil nie, maar ook ’n manier vind om Katie volgens háár verwysingsraamwerk te verstaan.Wanneer ’n man uit haar verlede weer sy verskyning maak, word Ellie terselfdertyd gedwing om haar eie vrese en begeertes te konfronteer.Uit die pen van die gewilde skrywer van My Sister’s Keeper verskyn dié boeiende verhaal van twee vroue . . . en een geheim.

André P. Brink En die spel van liefde: ’n biografie

by Leon De Kock

’n Buitengewone en uitstekende manuskrip.” – Prof. Gerrit OlivierAndré P. Brink en die spel van liefde is die heel eerste biografie van ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat gedurende sy leeftyd in dieselfde asem as Gabriel García Márquez, Peter Carey en Aleksandr Soltzjenitsen genoem is, en wie se romans in meer as 30 tale vertaal is.In Leon de Kock se langverwagte biografie word Brink se persoonlike dagboeke en joernale as die belangrikste bronmateriaal hanteer. Brink het meer as 50 jaar lank sy ervarings en gedagtes pligsgetrou opgeteken: hierdie notaboeke, waartoe De Kock eksklusief toegang verkry het, word nou vir die eerste maal bekend gemaak.Die spel van liefde is ’n omvangryke biografie wat die leser ’n openhartige, onverbloemde blik gee op Brink se gedagtes en gevoelens – oor homself én ander. Brink beskryf die hoogte- en laagtepunte van sy vyf huwelike asook sy verskeie verhoudings met ’n groot aantal vroue – ’n onderwerp wat hy in sy memoir, ’n Vurk in die pad, maar slegs vlugtig bespreek. Gedurende sy leeftyd het Brink hom nie net teen die politieke bestel verset nie, maar veral ook teen tradisionele seksuele sedes.In hierdie biografie van ’n skrywer aan wie die Nobelprys vir letterkunde byna toegeken is, bekyk De Kock Brink se persoonlike, outobiografiese aantekeninge vanuit ’n kritiese, literêre oogpunt. Daarmee saam vergelyk hy die dagboeke met akademiese en ander, alledaagse bronne, waaronder getuienisse deur Brink se vriende, familie, eggenotes en minnaresse. Die spel van liefde is ’n unieke, belangrike toevoeging tot die Suid-Afrikaanse lettere, maar veral ook tot navorsing oor Brink se lewe en skryfwerk.

Bloedvreemd

by Juliana Coetzer

Tydens 'n gesinsvakansie raak die sewejarige Anneke siek en draai by die dood om. Sy herstel, maar met ernstige nagevolge: Weens breinskade word haar verstandelike agteruitgang elke maand meer sigbaar. Om die sprankelende kind wat lag en presteer te behou, en die naderende gestremdheid af te weer, gaan die gesin op 'n soektog na 'n wonderkuur. Alles word probeer, van alternatiewe behandelings en 'n vreemde dieet tot 'n besoek aan die profeet TB Joshua in Nigerië. Soos die siekte toeneem, word alles vir Juliana vreemd en onherkenbaar - haar kind, syself en haar gesin. Sy voel onbevoeg om haarself of haar gesin te red, ten spyte daarvan dat sy as psigoterapeut juis in trauma spesialiseer. Haar eens vrolike huis word 'n plek waar elke lid van die gesin op 'n ander manier leer om te oorleef. Want Anneke se siekte laat almal se unfinished business uit die kas val. Juliana se pad na aanvaarding dwing haar uiteindelik om ook op haar eie spore terug te loop en haar idee van ma-wees te heroorweeg.

Wreed en mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling

by Tobie Wiese

Al is die dood ’n feit soos ’n koei, vermy die meeste van ons dit om daaroor te dink of te praat. Hierdie boek probeer om dié stilte te verbreek.In Wreed én mooi is die dood deel bekende Afrikaanse skrywers hulle verhale oor verlies en heling. Dit bied insig in hoe om die trauma van ’n geliefde se dood te hanteer en jou eie sterflikheid te konfronteer.Só skryf Marita van der Vyver roerend oor haar babaseun se dood, terwyl Valda Jansen beskryf hoe sy aanvanklik lamgelê is deur die nuus dat sy kanker het en Kerneels Breytenbach vertel hoe sy vrou se sterwe hom tot selfkennis gelei het.’n Jong paramedikus berig oor sy gereelde ontmoetings met die dood en ’n sterwensbegeleier vertel hoe dit moontlik is om hierdie wêreld blymoedig te verlaat. Daar is selfs ’n bietjie humor... soos die storie oor die jong dominee wat in ’n leë graf beland het en Annelie Botes se lang lys voorskrifte vir haar begrafnis.Die dood is wreed ja, maar dit kan – verrassend genoeg ̶ ook mooi wees.

Refine Search

Showing 1 through 25 of 87 results