Browse Results

Showing 76 through 87 of 87 results

Recce-resepte: Vir kos, die bos, die lewe

by Justin Vermaak Douw Steyn

Aasvoëlsop, enigiemand? Of wat van vlieënde vis vir voorgereg met gebraaide luislang vir hoofgereg?Recce-resepte vir kos, die bos, die lewe is vol tong-in-die-kies resepte en stories oor die Recces se ervarings gedurende die Grensoorlogjare en tot 1997. Die boek plaas jou in die skoene van hierdie legendariese en geheimsinninge Spesiale Magte-operaters. Ontdek wat dit verg om vir weke aaneen uit 'n rugsak te leef, hoe om te oorleef op dit wat die natuur versaf en selfs hoe om 'n leeu kaalhand van 'n karkas te verjaaf. Die stories oor hul waaghalsige operasies gedurende die eerste 25 jaar van die Spesiale Magte vat jou van Durban na Langebaan en deur Phalaborwa na die res van Afrika en selfs Rusland.Hulle verklap boonop hul unieke filosofie – bly in die oomblik, pas aan en doen jou ding! Of staan opsy, want die Recces kom verby …WAARSKUWING: Hoewel die meeste resepte eetbaar is, moet sommige nooit, ooit herhaal word nie.

In Christus: Van toeskouer tot spoortrapper

by Callie Roos

“God is nie een of ander control freak nie … Hy laat die gelowige self keuses maak en self verantwoordelikheid neem.”Wat beteken dit om vandag ’n Christen to wees? Dit is lankal nie meer genoeg om blindelings net Sondag ná Sondag die erediens by te woon nie, sê die geestelike leier and oudsoldaat Callie Roos. Dit is slegs deur ’n lewe in Christus da tons werklik God se krag in ons kan beleef.Volgens Callie beleef die kerk vandag ’n krisis en georganiseerde godsdiens hou gelowiges gevange in dogma en ’n behoefte aan beheer. Christene moet onstnap uit die geestelike tronk wat hulle inperk en hul bestaande begripsraamwerk bevraagteken.’n Lewe in Christus behels dat jy uitgaan in die wêreld en daadwerklik ’n verskil maak. Wanneer gewone Christen-mense Christus word vir ander, kan hierdie nuwe manier van glo ’n massabeweging word wat die ganse mensdom ten diepste sal aangryp.In Christus beloof om te inspireer en gelowiges nuut oor hul Christenskap te laat dink.

Negentien Minute

by Jodi Picoult

“Hoe goed ken ’n mens werklik jou gesinslede of enigiemand anders? Hoe vernietigend is groepsdruk, hoe intimiderend die behoefte aan tuishoort?” – Deborah Steinmair, joernalis en skrywer.Nadat hy jare lank wreed verbaal en fisiek deur klasmaats geboelie is, knak die 17-jarige Peter Houghton een oggend. Binne slegs negentien minute sterf tien inwoners van die dorp Sterling in Amerika.Die geskokte gemeenskap is vasberade dat geregtigheid moet geskied. Soos die hofsaak ontvou en Peter getuienis lewer, kom dit egter aan die lig dat die inwoners van Sterling ’n rol daarin gespeel het om ’n innemende, liefdevolle seun in ’n massamoordenaar te laat verander.In ’n era waarin boeliegedrag toenemend ’n probleem is, ook in Suid-Afrika, bring hierdie meesleurende boek talle insigte vir ouers, onderwysers en tieners.

Die Brug: Na die hel en terug in Angola

by Deon Lamprecht

In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oop gesigseuns vol bravade voor hul Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljon Groep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doods akker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing.Ná die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie. In 2018 keer ’n groep van dié ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het.Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.

Amper Frans: ʼn Lewe van fanfare en faux pas

by Louis Jansen van Vuuren

Toe hy jare gelede vir die eerste keer in Parys aankom, sou die kunstenaar Louis Jansen Van Vuuren nooit kon dink dat hy eendag ʼn château in die Franse platteland sou besit nie.In Amper Frans vertel hy hoe hy die plaaslike tradisies en kultuur die afgelope 21 jaar ontdek her – daar is stories oor statige hertoginne en neusoptrekkerige kelners, die berugte Franse burokrasie en dan ook sy talle faux pas in die Fanse taal.Om die vervalle Château de la Creuzette saam met sy lewensmaat, Hardy Olivier, in ʼn boetiekhotel te omskep het groot Geduld en uithouvermoë geverg. Talle lesse is op die harder manier geleer, soos dat vier verwarmers nie genoeg s om ʼn hele château to verhit nie …Louis verklap ook iets van hul gaste se kaskenades en van hul eie reise soos hulle die land platry agter vlooimarkte en avontuur aan. Die boek is ʼn moet vir alle Frankofiele.

Die boek van twee weë

by Jodi Picoult

In die splitsekonde wat sy met haar eie dood gekonfronteer word, verander alles in Dawn Edelstein se lewe. Sy is op ’n vliegtuig wanneer die aankondiging kom: Maak gereed vir ’n noodlanding.Terwyl sy haar op die ergste voorberei, is haar gedagtes egter nie by haar eggenoot en dogter nie, maar by Wyatt Armstrong – ’n man wat sy 15 jaar tevore in Egipte agtergelaat het. Dawn oorleef die vliegtuigongeluk op wonderbaarlike wyse, maar word daarna deur groot onsekerhede gery.Sy het ’n goeie lewe in Boston en sy vind vervulling in haar werk as doodsdoula of sterwensbegeleier. Tog kan sy nie help om te wonder wat geword het van Wyatt en sy werk as argeoloog nie. As jong studente het hulle saam opgrawings gedoen totdat Dawn weens ’n persoonlike krisis terug is na Amerika.Moet sy terugkeer na haar voorstedelike lewe en haar gesin? Of na Egipte gaan om die spoke van die verlede te konfronteer en dalk haar navorsing oor die boek van twee weë, ’n kaart van die antieke Egiptiese onderwêreld, te voltooi?Soos die verhaal ontvou, moet Dawn antwoorde op talle tergende vrae vind: Wat behels ’n goeie lewe en wat laat ons agter wanneer ons sterf? Hoeveel van ons lewenskeuses is regtig ons eie en hoeveel maak die lewe namens ons?

Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman

by Richard Steyn

“Hy was een van die grootste geeste ter wêreld.” – Winston ChurchillLouis Botha was ʼn briljante Boeregeneraal wie se taktiese vernuf en intuïtiewe aanslag op die front vir etlike oorwinnings oor die Britse magte gesorg het. Maar dit was sy engimatiese karakter en vaste oortuiging om to hou by wat hy geglo het reg was, wat hom as ʼn leier van die Boerevolk bevestig het.Richard Steyn gee op meesterlike wyse insae in die lewe van hierdie grootse Suid-Afrikaanse krygsman en staatsman. Hy beskryf verhelderend hoe Botha saam met sy hegte vriend, Jan Smuts, die vier Suid-Afrikaanse kolonies na Uniewording in 1910 gelei het.Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was hy aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse magte se suksesvolle inval van Duits-Suidwes-Afrika, wat tekenend was van sy onwrikbare oortuiging dat ʼn man daad by woord moet voeg. Tog is hy deur talle Afrikaners verkwalik vir sy steun aan Brittanje, en die Afrikaner-rebellie, waartydens hy teen voormalige makkers moes optree, het sy hart gebreek.Botha se groothartige en vrygewige omgang met mense – van Vereeniging tot Versailles – het home bo sy tydgenote laat uitstaan. Die boek weerstaan die versoeking om sy lewe deur moderne lense to evalueer en probeer eerder om die konteks van die politiek van sy tyd verduidelik.

Afrikaner-Sondebok?: Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwag-leier

by Albert Blake

In die vroeë 1940’s het die charismatiese Hans van Rensburg duisende volgelinge na die Ossewabrandwag gelok en die regering van Jan Smuts gekonfronteer oor sy deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Onder sy leierskap word etlike sabotasiedade deur die Stormjaers en Terreurgroep, die OB se militêre vleuels, gepleeg. Van Rensburg het ook in die geheim kontak met die Duitse regering gemaak.Teen 1940 was Van Rensburg egter nog deel van die regering: As die jongste sekretaris van justisie ooit en administrateur van ’n provinsie is hy as ’n goue seun van die politiek beskou. Waarom was hy só vurig oor die ideaal van ’n onafhanklike republiek dat hy dit alles prysgegee het en ’n koers ingeslaan het wat uiteindelik van hom ’n verstoteling sou maak?Van Rensburg word dikwels as ’n verbete Afrikanerfascis beskryf, maar die werklikheid is meer kompleks. In hierdie biografie belig Albert Blake die vele kante van ’n man wat nie net bekend was as regsgeleerde, filosoof en taalkundige nie, maar ook as uitstaande militaris en wildjagter.Op die hoogtepunt van sy gewildheid kon geen ander Afrikanerleier by die begaafde Van Rensburg kers vashou nie. Blake ondersoek waarom hy uiteindelik egter die stryd om die hart van die Afrikaner sou verloor.

Terreur en Bevryding: Die ANC/SAKP, die Kommunisme en geweld (1961-1990)

by Leopold Scholtz

Wie vandag se ANC, sy beleid en regeerstyl wil verstaan, moet feitlik ’n eeu terug begin delf. ’n Deel van die antwoord lê in sy verhouding met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die invloed van die kommunisme, asook die ANC/SAKP se optrede in ballingskap, skryf die politieke kommentator en historikus Leopold Scholtz.In Terreur en bevryding toon hy aan hoe die SAKP reeds in 1928 opdrag van die Kremlin ontvang het om die ANC te infiltreer. Die doel was om mettertyd die partyleiding oor te neem as deel van ’n beoogde revolusie in twee fases: ’n nasionaal demokratiese revolusie – ’n konsep wat steeds deel is van ANC-beleid – gevolg deur ’n Marxisties-Leninistiese “diktatuur van die proletariaat”. Volgens Scholtz sou dit ’n immorele stelsel met beperkte vryheid meebring.Dit was ook die SAKP wat die dryfveer agter die gewapende stryd was.Scholtz plaas die kollig op die dodelike kombinasie van erge interne intoleransie en onbekwaamheid binne die ANC/SAKP in ballingskap, die korrupsie deur ’n deel van die leierskorps en die ernstige menseregtevergrype in die ANC se buitelandse kampe. Hy voer aan dat dit wat tans in Suid-Afrika op al drie regeringsvlakke gebeur ’n voortsetting is van ’n kultuur wat al tydens die alliansie se jare in ballingskap gevestig is.

Churchill & Smuts: Die vriendskap

by Richard Steyn

Die eiesoortige vriendskap tussen Winston Churchill en Jan Smuts is 'n studie in kontraste. In hul jeug het hulle uiteenlopende wêrelde bewoon: Churchill was die weerbarstige en energieke jong aristokraat; Smuts die asketiese, filosofiese Kaapse plaasseun, wat later aan Cambridge sou gaan studeer. Daar sou hy die eerste student word wat albei dele van die finale regskursus in dieselfde jaar neem en al twee met onderskeiding slaag.Nadat hulle in die Anglo-Boereoorlog eers as vyande, en later in die Eerste Wêreldoorlog as bondgenote byeengebring is, het die mans 'n vriendskap gesmee wat oor die eerste helfte van die twintigste eeu gestrek het en tot Smuts se dood in 1950 voortgeduur het. Richard Steyn, die skrywer van Jan Smuts: Afrikaner sonder grense, bestudeer dié hegte vriendskap deur twee wêreldoorloë aan die hand van ’n magdom argiefstukke, briewe, telegramme en die omvangryke boeke wat oor albei mans geskryf is.Dit is 'n fassinerende verhaal oor twee besonderse individue in oorlog en vrede – die een die leier van ’n groot ryk, die ander die leier van 'n klein, weerspannige lid van daardie ryk.

Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate

by Ebbe Dommisse

Die ongekende sukses van Afrikaner-sakelui het die afgelope drie dekades verras en verstom. ’n Aantal is vandag dollar-miljardêrs met uitgebreide internasionale belange. Die opkoms van die Afrikaner-magnaat is veral merkwaardig in die lig van die regering se omvattende program van swart ekonomiese bemagtiging.Onder leiding van Koos Bekker het Naspers die Johannesburgse aandelebeurs begin domineer en is dié mediagroep tot ’n internasionale beleggingshouergroep omvorm. Johann Rupert het Richemont as die naasgrootste groep in die mark vir luukse goedere gevestig, terwyl Christo Wiese en Whitey Basson onderskeidelik Pepkor en Shoprite tot die grootste kleinhandelgroepe in klerasie en voedsel in Afrika uitgebou het.Fortuine verklap waarom alles wat sakeleiers soos Jannie Mouton, Michiel le Roux, GT Ferreira, Johan van Zyl, Douw Steyn en ’n aantal megaboere aanraak skynbaar in goud verander. Dit ondersoek ook die sensasionele ineenstorting van Steinhoff Internasionaal onder Markus Jooste, waardeur soveel welvaart uitgewis is.’n Onthullende boek, wat hoofsaaklik op persoonlike onderhoude gebaseer is en lig werp op die werksetiek, strategiese vennootskappe en aptyt vir risiko wat hierdie groep Afrikaners die reënmakers van die ekonomie maak.

Refine Search

Showing 76 through 87 of 87 results