Browse Results

Showing 51 through 75 of 87 results

Louis Botha: Krygsman, Generaal, Staatsman

by Richard Steyn

“Hy was een van die grootste geeste ter wêreld.” – Winston ChurchillLouis Botha was ʼn briljante Boeregeneraal wie se taktiese vernuf en intuïtiewe aanslag op die front vir etlike oorwinnings oor die Britse magte gesorg het. Maar dit was sy engimatiese karakter en vaste oortuiging om to hou by wat hy geglo het reg was, wat hom as ʼn leier van die Boerevolk bevestig het.Richard Steyn gee op meesterlike wyse insae in die lewe van hierdie grootse Suid-Afrikaanse krygsman en staatsman. Hy beskryf verhelderend hoe Botha saam met sy hegte vriend, Jan Smuts, die vier Suid-Afrikaanse kolonies na Uniewording in 1910 gelei het.Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was hy aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse magte se suksesvolle inval van Duits-Suidwes-Afrika, wat tekenend was van sy onwrikbare oortuiging dat ʼn man daad by woord moet voeg. Tog is hy deur talle Afrikaners verkwalik vir sy steun aan Brittanje, en die Afrikaner-rebellie, waartydens hy teen voormalige makkers moes optree, het sy hart gebreek.Botha se groothartige en vrygewige omgang met mense – van Vereeniging tot Versailles – het home bo sy tydgenote laat uitstaan. Die boek weerstaan die versoeking om sy lewe deur moderne lense to evalueer en probeer eerder om die konteks van die politiek van sy tyd verduidelik.

Amper Frans: ʼn Lewe van fanfare en faux pas

by Louis Jansen van Vuuren

Toe hy jare gelede vir die eerste keer in Parys aankom, sou die kunstenaar Louis Jansen Van Vuuren nooit kon dink dat hy eendag ʼn château in die Franse platteland sou besit nie.In Amper Frans vertel hy hoe hy die plaaslike tradisies en kultuur die afgelope 21 jaar ontdek her – daar is stories oor statige hertoginne en neusoptrekkerige kelners, die berugte Franse burokrasie en dan ook sy talle faux pas in die Fanse taal.Om die vervalle Château de la Creuzette saam met sy lewensmaat, Hardy Olivier, in ʼn boetiekhotel te omskep het groot Geduld en uithouvermoë geverg. Talle lesse is op die harder manier geleer, soos dat vier verwarmers nie genoeg s om ʼn hele château to verhit nie …Louis verklap ook iets van hul gaste se kaskenades en van hul eie reise soos hulle die land platry agter vlooimarkte en avontuur aan. Die boek is ʼn moet vir alle Frankofiele.

Die boek van twee weë

by Jodi Picoult

In die splitsekonde wat sy met haar eie dood gekonfronteer word, verander alles in Dawn Edelstein se lewe. Sy is op ’n vliegtuig wanneer die aankondiging kom: Maak gereed vir ’n noodlanding.Terwyl sy haar op die ergste voorberei, is haar gedagtes egter nie by haar eggenoot en dogter nie, maar by Wyatt Armstrong – ’n man wat sy 15 jaar tevore in Egipte agtergelaat het. Dawn oorleef die vliegtuigongeluk op wonderbaarlike wyse, maar word daarna deur groot onsekerhede gery.Sy het ’n goeie lewe in Boston en sy vind vervulling in haar werk as doodsdoula of sterwensbegeleier. Tog kan sy nie help om te wonder wat geword het van Wyatt en sy werk as argeoloog nie. As jong studente het hulle saam opgrawings gedoen totdat Dawn weens ’n persoonlike krisis terug is na Amerika.Moet sy terugkeer na haar voorstedelike lewe en haar gesin? Of na Egipte gaan om die spoke van die verlede te konfronteer en dalk haar navorsing oor die boek van twee weë, ’n kaart van die antieke Egiptiese onderwêreld, te voltooi?Soos die verhaal ontvou, moet Dawn antwoorde op talle tergende vrae vind: Wat behels ’n goeie lewe en wat laat ons agter wanneer ons sterf? Hoeveel van ons lewenskeuses is regtig ons eie en hoeveel maak die lewe namens ons?

Afrikaner-Sondebok?: Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwag-leier

by Albert Blake

In die vroeë 1940’s het die charismatiese Hans van Rensburg duisende volgelinge na die Ossewabrandwag gelok en die regering van Jan Smuts gekonfronteer oor sy deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Onder sy leierskap word etlike sabotasiedade deur die Stormjaers en Terreurgroep, die OB se militêre vleuels, gepleeg. Van Rensburg het ook in die geheim kontak met die Duitse regering gemaak.Teen 1940 was Van Rensburg egter nog deel van die regering: As die jongste sekretaris van justisie ooit en administrateur van ’n provinsie is hy as ’n goue seun van die politiek beskou. Waarom was hy só vurig oor die ideaal van ’n onafhanklike republiek dat hy dit alles prysgegee het en ’n koers ingeslaan het wat uiteindelik van hom ’n verstoteling sou maak?Van Rensburg word dikwels as ’n verbete Afrikanerfascis beskryf, maar die werklikheid is meer kompleks. In hierdie biografie belig Albert Blake die vele kante van ’n man wat nie net bekend was as regsgeleerde, filosoof en taalkundige nie, maar ook as uitstaande militaris en wildjagter.Op die hoogtepunt van sy gewildheid kon geen ander Afrikanerleier by die begaafde Van Rensburg kers vashou nie. Blake ondersoek waarom hy uiteindelik egter die stryd om die hart van die Afrikaner sou verloor.

Terreur en Bevryding: Die ANC/SAKP, die Kommunisme en geweld (1961-1990)

by Leopold Scholtz

Wie vandag se ANC, sy beleid en regeerstyl wil verstaan, moet feitlik ’n eeu terug begin delf. ’n Deel van die antwoord lê in sy verhouding met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die invloed van die kommunisme, asook die ANC/SAKP se optrede in ballingskap, skryf die politieke kommentator en historikus Leopold Scholtz.In Terreur en bevryding toon hy aan hoe die SAKP reeds in 1928 opdrag van die Kremlin ontvang het om die ANC te infiltreer. Die doel was om mettertyd die partyleiding oor te neem as deel van ’n beoogde revolusie in twee fases: ’n nasionaal demokratiese revolusie – ’n konsep wat steeds deel is van ANC-beleid – gevolg deur ’n Marxisties-Leninistiese “diktatuur van die proletariaat”. Volgens Scholtz sou dit ’n immorele stelsel met beperkte vryheid meebring.Dit was ook die SAKP wat die dryfveer agter die gewapende stryd was.Scholtz plaas die kollig op die dodelike kombinasie van erge interne intoleransie en onbekwaamheid binne die ANC/SAKP in ballingskap, die korrupsie deur ’n deel van die leierskorps en die ernstige menseregtevergrype in die ANC se buitelandse kampe. Hy voer aan dat dit wat tans in Suid-Afrika op al drie regeringsvlakke gebeur ’n voortsetting is van ’n kultuur wat al tydens die alliansie se jare in ballingskap gevestig is.

Die Binnekring: Terugblikke Op Die Laaste Dae Van Blanke Regering

by Jan Heunis

In Die Binnekring dink Jan Heunis terug aan die laaste jare van wit oorheersing in Suid-Afrika deur sy snydende sketsing van sleutelfigure soos Frederik van Zyl Slabbert, PW Botha, Hernus Kriel, Kobie Coetsee, Dennis Worrall en Roelf Meyer, sowel as weergawes van gebeure soos die ondertekening van die Nkomati-verdrag, PW Botha se Rubicon-toespraak en die CODESA-onderhandelinge. Hy vertel van baie dinge wat agter die skerms plaasgevind het, professioneel sowel as persoonlik, en beskryf hoe die Nasionale Party uiteindelik in onderhandelinge met die ANC uitoorlê is namate Suid-Afrika uit die duister van 'n halfeeu van Nasionalistiese regering beweeg het. Jan Heunis, die seun van die Nasionale Party-politikus en Kabinetminister Chris Heunis, was nooit self 'n politikus nie, maar sy posisie as die staat se hoof-regsadviseur in die Kantoor van die Staatspresident onder P.W. Botha, het vir hom unieke insig in die gebeure van die tyd gegee. Hy het later 'n invloedryke rol gespeel in die veelparty-onderhandelinge wat tot die Grondwet van 1996 gelei het.

Binnekring van Spookasems: Stories oor die lewe

by Herman Lategan

Herman Lategan is - flaneur van Seepunt. Wanneer hy voetslaan in die strate is hy - toeris in die demi-mond - landskap van vlees en bloed. Hy swerf tussen bergies, dwergies, fopdossers, kerkmuise, nagblomme, laventelhane en ontheemdes. Hy lê die mens en homself tot op die been bloot. Die karakters in sy stories, almal ongelooflik en eg, is almal van ons. Vroue wat swaar dra aan die verlies van blink verledes. Jong mans wat kaalbolyf dagga rook in Houtbaai, waar die "skyn van voorstedelike rustigheid"die res van ons flous, maar nie vir Herman nie, want hy sien onder die oppervlak "gluip iets wilds, soms sinister, maar ook opwindend."Hy het 'n oog vir wat fout en uit plek en koddig en belaglik en mooi is, en vir wat snaaks en bisar is.Lesers van Rapport het lank gevra vir 'n versameling van die beste rubrieke uit Herman se weeklikse Woorde wat wip. Hier ís hulle nou, oordeelkundig gekeur deur Amanda Botha. As pasella is daar 'n tweede afdeling: poespas van sy sielvolle, melancholiese stories. Danksy sy eiesoortige taalgevoel, verontrustende derde oog, aweregse blik op randeiers, en fyn humoristiese vergrootlas op die lewe, is elke vinjet 'n chiaroscuro van sonlig en donkermaan. Hierdie tydlose bundel kan jy stadig en sorgsaam soos 'n literêre smulpaap verorber. Lanklaas was daar sulke eensame beskrywings van die mens se oerverlange.

Bloedvreemd

by Juliana Coetzer

Tydens 'n gesinsvakansie raak die sewejarige Anneke siek en draai by die dood om. Sy herstel, maar met ernstige nagevolge: Weens breinskade word haar verstandelike agteruitgang elke maand meer sigbaar. Om die sprankelende kind wat lag en presteer te behou, en die naderende gestremdheid af te weer, gaan die gesin op 'n soektog na 'n wonderkuur. Alles word probeer, van alternatiewe behandelings en 'n vreemde dieet tot 'n besoek aan die profeet TB Joshua in Nigerië. Soos die siekte toeneem, word alles vir Juliana vreemd en onherkenbaar - haar kind, syself en haar gesin. Sy voel onbevoeg om haarself of haar gesin te red, ten spyte daarvan dat sy as psigoterapeut juis in trauma spesialiseer. Haar eens vrolike huis word 'n plek waar elke lid van die gesin op 'n ander manier leer om te oorleef. Want Anneke se siekte laat almal se unfinished business uit die kas val. Juliana se pad na aanvaarding dwing haar uiteindelik om ook op haar eie spore terug te loop en haar idee van ma-wees te heroorweeg.

501 Lekkerlag Grappe

by Andre Brink

Van ou Koos se manewales tot die dom blondine se eskapades, van dierekaperjolle tot plaasplesiere, k(l)askenades tot kantoorpret ... 501 Lekkerlag-grappe is propvol staaltjies en verhaaltjies wat jou sal laat kraai van die lag! Dié boek bevat ’n mengsel van tradisionele Afrikaanse grappe, maar sal jou ook met nuwes laat hoes en proes. Lag luidkeels, uit jou maag, en geniet die ou bekendes se amusante avonture. Lekkerlag-grappe is ’n onontbeerlike grapgids, ’n móét vir elke huis!

Jan Smuts: Afrikaner sonder grense

by Richard Steyn

Jan Christiaan Smuts was ’n soldaat, staatsman, intellektueel en een van Suid-Afrika se grootste leiers. Tog word daar vandag min oor hom gepraat of geskryf, al beleef ons tans skynbaar ’n leierskapsvakuum. In Afrikaner sonder grense voer Richard Steyn aan dat ons hierdie indrukwekkende kryger-staatsman se lewe en denke moet herbesoek, omdat daar soveel te leer is uit sy merkwaardige prestasies. Die hoogs leesbare verslag ondersoek onder meer Smuts se rol as politieke leier, as adviseur van wêreldleiers, sy spirituele en intellektuele lewe en sy verhoudings met vroue. Sy unieke bydraes op ʼn verskeidenheid ander terreine, insluitend botanie, bewaring en filosofie, word ook bespreek.

Ratels aan die Lomba: Die storie van Charlie-eskadron

by Leopold Scholtz

Op 3 Oktober 1987 het Charlie-eskadron - die ystervuis van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep - op die Lombarivier in die suide van Angola teen 'n veel groter Angolese mag met beter wapentuig as hulle te staan gekom. Tenks is veronderstel teen tenks aangewend moes word. Tog moes die jong dienspligtiges die Angolese tenks van 47 Brigade in Ratels met minder kragtige kanonne en dun pantser aanvat. Boonop was die terrein so dig bebos dat hulle net enkele meter ver kon sien en moeilik kon beweeg.Leopold Scholtz se beskrywing van hierdie Dawid teen Goliat-geveg tydens Operasie Moduler neem die leser na die hart van die aksie. Danksy onderhoude met veterane en dagboekinskrywings dra hierdie intense hervertelling die volle drama van die geveg en ander ervarings aan die front oor. Dit is 'n diep menslike verhaal oor hoe individue reageer in die aangesig van die dood en ook hoe die oorlog hulle nooit uit sy kloue gelaat het nie...

Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate

by Ebbe Dommisse

Die ongekende sukses van Afrikaner-sakelui het die afgelope drie dekades verras en verstom. ’n Aantal is vandag dollar-miljardêrs met uitgebreide internasionale belange. Die opkoms van die Afrikaner-magnaat is veral merkwaardig in die lig van die regering se omvattende program van swart ekonomiese bemagtiging.Onder leiding van Koos Bekker het Naspers die Johannesburgse aandelebeurs begin domineer en is dié mediagroep tot ’n internasionale beleggingshouergroep omvorm. Johann Rupert het Richemont as die naasgrootste groep in die mark vir luukse goedere gevestig, terwyl Christo Wiese en Whitey Basson onderskeidelik Pepkor en Shoprite tot die grootste kleinhandelgroepe in klerasie en voedsel in Afrika uitgebou het.Fortuine verklap waarom alles wat sakeleiers soos Jannie Mouton, Michiel le Roux, GT Ferreira, Johan van Zyl, Douw Steyn en ’n aantal megaboere aanraak skynbaar in goud verander. Dit ondersoek ook die sensasionele ineenstorting van Steinhoff Internasionaal onder Markus Jooste, waardeur soveel welvaart uitgewis is.’n Onthullende boek, wat hoofsaaklik op persoonlike onderhoude gebaseer is en lig werp op die werksetiek, strategiese vennootskappe en aptyt vir risiko wat hierdie groep Afrikaners die reënmakers van die ekonomie maak.

Witboy in Berlyn: Avonture in die Eerste Wêreld

by Deon Maas

“Die honde en kinders verstaan Duits, maar ek nie.”Toe sy vrou werk kry in Duitsland, besluit Deon Maas in ’n oogwink om Berlyn toe te trek. In hierdie intellektueel stimulerende, dekadente stad voel hy hom op sekere maniere dadelik tuis – op ander nie.In die reis wat alle immigrante meemaak, ontdek hy meer oor homself en sy wortels terwyl hy sy voete in sy nuwe omgewing vind. Hy verwonder hom aan tipies Duitse gewoontes soos dat alle oorsese televisieprogramme (swak) oorgeklank word en dat die Duitsers hul sin vir ordelikheid op alles en almal afdwing.Op sy avonture ontmoet hy veganistiese anargiste, sokkerboewe, ’n lid van ’n satiriese Duitse politieke party en neem hy selfs aan ’n protesoptog deel.Maas ontdek dat alles nie perfek werk in die Eerste Wêreld nie. Mense daar sukkel om probleme op te los oor alles so streng gereguleer is en hulle weet nie eintlik hoe om die uit-dagings te hanteer wat toenemende immigrasie veroorsaak nie.Hy probeer ook antwoorde vind op vrae oor verlies, oor identiteit en hoe om as ’n wit immigrant uit Afrika in Europa in te pas. Maas besef al is hy op papier dalk iets van ’n Duitser danksy sy Duitse stamouers, is hy eintlik iemand heeltemal anders. Iemand wat in wese van Afrika is.

Wintersrust

by Joyce Kotzè

Een familie, van Britse en Boere-afkoms, se lojaliteite word verstrengel deur die gang van geskiedenis. Transvaalse politiek en Britse imperialisme sleur hul mee in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902. Hegte bande word op die slagvelde beproef en wanneer die formele fase van die oorlog oorgaan in ’n verskroeidaardebeleid en geurrillastryde, moet riskante keuses gemaak word. Martin de Winter, bestem om sy land die twintigste eeu binne te lei, word noodgedwonge ’n suksesvolle jong generaal terwyl verbode liefde by hom spook. Stefanie de Winter, ’n gevierde pianis, word wantrou deur die leiers aan beide kante. Lojaal aan haar familie, maar verlief op ’n Britse offisier, volg sy ’n noodlottige pad. Karel en Rudolf de Winter, tweelingbroers, verknog aan mekaar, probeer die koeël ontwyk wat hul vir altyd sal skei. James Henderson, Britse kavalleris en onverskrokke soldaat, word vasgevang deur sy lojaliteit aan sy land en sy liefde vir sy Boerefamilie. Dokter Charles Henderson is geskok deur die doelbewuste verwoesting van sy aangenome land, Transvaal, en deur die aandeel wat sy broer teen wil en dank daaraan het. Wintersrust is ’n bruisende verhaal vol hartstog en avontuur oor die individu se worsteling met magte buite sy beheer. Sommige, oorweldig deur wanhoop, oorleef nie. Ander moet ten slotte by ’n plek van vrede en vergiffenis uitkom. Ondanks woede en onreg ontdek die familie ’n mag wat sterker as oorlog is.

Ystervuis Uit Die See: Hoogs Geheime Seewaartse Recce-Operasies (1978-1988)

by Arne Soderlund Douw Steyn

Gedurende die Grensoorlog het die Spesiale Magte se 4 Verkennings regiment tientalle klandestiene seewaartse operasies op vaartuie van die Suid-Afrikaanse Vloot uitgevoer. Van Cabinda in Angola tot Dar es Salaam in Tanzanië het hulle strategiese teikens soos oliedepots, vervoerinfrastruktuur en selfs Russiese skepe aangeval. Die bestaan van 4 Recce is grootliks geheim gehou, selfs binne die Suid-Afrikaanse Weermag.Ystervuis uit die see beskryf 50 operasies deur 4 Recce, ander Spesmagte-eenhede en die SA Vloot. Daaronder tel Operasie Kerslig (1981), waarin ’n operateur gesterf en ander beseer is in ’n aanval op ’n olieraffinadery in Luanda, en Operasie Argon (1985) toe kaptein Wynand du Toit in Angola gevange geneem is.Die skrywers, wat self aan etlike van die operasies deelgeneem het, het ook toegang gekry tot uiters geheime dokumente wat intussen gedeklassiffiseer is. Hul dramatiese vertellings wys hoe veelsydig en doeltreffend hierdie elite-eenheid was.Dié omvattende boek is ’n moet vir enigeen met ’n belangstelling in die Spesmagte. Dit neem jou na die hart van die aksie, die adrenalien en vrees van seewaartse operasies.

Oor Berge en Dale: Op Reis met 'n Monumentjagter

by Jackie Grobler

Daar is nie ’n plaasdraad te hoog, grondpad te sinkplaat of aanwysings te gebrekkig om die geskiedkundige Jackie Grobler te keer nie. Wanneer hy ’n monument in sy visier het, sal hy dit vind. In hierdie boek reis hy oor berge en dale deur die vlaktes van die binneland tot by die voetheuwels van die Drakensberge op soek na meer as 400 interessante gedenkplekke. Van die monumente is bekend en vertel van groot keerpunte in ons geskiedenis. Ander is weggesteek en onthul minder bekende aspekte van die verlede. Grobler reis onder meer op die spoor van die Voortrekker Louis Tregardt deur Limpopo en in KwaZulu-Natal besoek hy slagvelde van die Anglo-Zoeloeoorlog en struggle-gedenkplekke. In Gauteng vind hy monumente ter ere van twee van Suid-Afrika se grootste leiers: Nelson Mandela en Jan Smuts. Sy reise na die Oos-Kaap neem hom na gedenkplekke vir Steve Biko en in die Wes-Kaap gaan hy op die spoor van die Portugese ontdekkingsreisigers.

André P. Brink En die spel van liefde: ’n biografie

by Leon De Kock

’n Buitengewone en uitstekende manuskrip.” – Prof. Gerrit OlivierAndré P. Brink en die spel van liefde is die heel eerste biografie van ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat gedurende sy leeftyd in dieselfde asem as Gabriel García Márquez, Peter Carey en Aleksandr Soltzjenitsen genoem is, en wie se romans in meer as 30 tale vertaal is.In Leon de Kock se langverwagte biografie word Brink se persoonlike dagboeke en joernale as die belangrikste bronmateriaal hanteer. Brink het meer as 50 jaar lank sy ervarings en gedagtes pligsgetrou opgeteken: hierdie notaboeke, waartoe De Kock eksklusief toegang verkry het, word nou vir die eerste maal bekend gemaak.Die spel van liefde is ’n omvangryke biografie wat die leser ’n openhartige, onverbloemde blik gee op Brink se gedagtes en gevoelens – oor homself én ander. Brink beskryf die hoogte- en laagtepunte van sy vyf huwelike asook sy verskeie verhoudings met ’n groot aantal vroue – ’n onderwerp wat hy in sy memoir, ’n Vurk in die pad, maar slegs vlugtig bespreek. Gedurende sy leeftyd het Brink hom nie net teen die politieke bestel verset nie, maar veral ook teen tradisionele seksuele sedes.In hierdie biografie van ’n skrywer aan wie die Nobelprys vir letterkunde byna toegeken is, bekyk De Kock Brink se persoonlike, outobiografiese aantekeninge vanuit ’n kritiese, literêre oogpunt. Daarmee saam vergelyk hy die dagboeke met akademiese en ander, alledaagse bronne, waaronder getuienisse deur Brink se vriende, familie, eggenotes en minnaresse. Die spel van liefde is ’n unieke, belangrike toevoeging tot die Suid-Afrikaanse lettere, maar veral ook tot navorsing oor Brink se lewe en skryfwerk.

Oorkant jou: ’n Verhaal uit die binnekamer

by Juliana Coetzer

Oorkant jou is gevul met die stories van die uiteenlopende mense wat Juliana Coetzer se pad kruis as psigoterapeut. Deur hul verhale van swaarkry en herstel, neem Juliana die leser op ’n reis wat eintlikons almal s’n is: die pad van grootword en eienaarskap neem.Sy vertel hoe sommige kliënte haar inspireer en uitdaag om haar eie vrese te konfronteer, maar ook watter uitwerking dit op terapeute het om aan die wreedheid van die mensdom blootgestel te word. Daar is die families wat uitmekaargeskeur is as gevolg van seksuele misbruik, die man wat sukkel met sy selfbeeld weens afknouery en ook die prostituut Venicia wat ’n tragiese simbool van verwaarlosing word.Juliana se aardse humorsin maak dat sy egter ook die komiese oomblikke raaksien – totdat die volgende storie oor die menslike toestand jou wind uitslaan.

My Ballerina Droom: ’n Ware verhaal

by Michaela DePrince Elaine DePrince

Michaela DePrince was ’n driejarige oorlogwesie in Sierra Leone toe sy op ’n dag ’n windverwaaide tydskrif optel met die foto van ’n glimlaggende ballerina op die voorblad. Daardie dag het haar obsessie met ballet begin. Sy het haarself daar en dan voorgeneem sy sou eendag ook so gelukkig soos die vrou op die foto wees. Sy is kort daarna deur ’n Amerikaanse gesin aangeneem. Sy het egter nooit die foto van die ballerina vergeet nie. Toe haar nuwe ma bewus word van haar belangstelling in ballet het sy begin klasse neem. Sedertdien het sy nog nooit ophou dans nie en vandag is sy ’n hoogs suksesvolle ballerina. ’n Storie wat enige jong meisie (of seun) sal inspireer om groot te droom.

Churchill & Smuts: Die vriendskap

by Richard Steyn

Die eiesoortige vriendskap tussen Winston Churchill en Jan Smuts is 'n studie in kontraste. In hul jeug het hulle uiteenlopende wêrelde bewoon: Churchill was die weerbarstige en energieke jong aristokraat; Smuts die asketiese, filosofiese Kaapse plaasseun, wat later aan Cambridge sou gaan studeer. Daar sou hy die eerste student word wat albei dele van die finale regskursus in dieselfde jaar neem en al twee met onderskeiding slaag.Nadat hulle in die Anglo-Boereoorlog eers as vyande, en later in die Eerste Wêreldoorlog as bondgenote byeengebring is, het die mans 'n vriendskap gesmee wat oor die eerste helfte van die twintigste eeu gestrek het en tot Smuts se dood in 1950 voortgeduur het. Richard Steyn, die skrywer van Jan Smuts: Afrikaner sonder grense, bestudeer dié hegte vriendskap deur twee wêreldoorloë aan die hand van ’n magdom argiefstukke, briewe, telegramme en die omvangryke boeke wat oor albei mans geskryf is.Dit is 'n fassinerende verhaal oor twee besonderse individue in oorlog en vrede – die een die leier van ’n groot ryk, die ander die leier van 'n klein, weerspannige lid van daardie ryk.

Recce-resepte: Vir kos, die bos, die lewe

by Justin Vermaak Douw Steyn

Aasvoëlsop, enigiemand? Of wat van vlieënde vis vir voorgereg met gebraaide luislang vir hoofgereg?Recce-resepte vir kos, die bos, die lewe is vol tong-in-die-kies resepte en stories oor die Recces se ervarings gedurende die Grensoorlogjare en tot 1997. Die boek plaas jou in die skoene van hierdie legendariese en geheimsinninge Spesiale Magte-operaters. Ontdek wat dit verg om vir weke aaneen uit 'n rugsak te leef, hoe om te oorleef op dit wat die natuur versaf en selfs hoe om 'n leeu kaalhand van 'n karkas te verjaaf. Die stories oor hul waaghalsige operasies gedurende die eerste 25 jaar van die Spesiale Magte vat jou van Durban na Langebaan en deur Phalaborwa na die res van Afrika en selfs Rusland.Hulle verklap boonop hul unieke filosofie – bly in die oomblik, pas aan en doen jou ding! Of staan opsy, want die Recces kom verby …WAARSKUWING: Hoewel die meeste resepte eetbaar is, moet sommige nooit, ooit herhaal word nie.

Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanning

by Mr James Styan

Vir die vroue wat hy met sy rolprentsterglimlag betower het, was Chris Barnard ’n hartebreker. Vir sy pasiënte ’n harteheler. Dié nuwe biografie oor Suid-Afrika se beroemdste hartsjirurg vertel nie net van Barnard se kinderjare in Beaufort-Wes, sy prominente huwelike (en egskeidings) en flambojante lewe nie. James Styan ondersoek ook die impak van die historiese eerste hartoorplanting op Barnard se persoonlik lewe en op die Suid-Afrikaanse gemeenskap in die algemeen, waar apartheidswetgewing dikwels die probleme van geneeskunde nog ingewikkelder gemaak het. Die rol van swart mediese personeel soos Hamilton Naki word bespreek, sowel as die intense wedywering wat tussen ander beroemde hartsjirurge en Barnard ontstaan het.Hoe het Barnard dit reggekry om hulle almal in dié resies om lewe en dood te wen? Hoeveel het sy welbekende sjarme daarmee te doen gehad? En wat is Barnard se nalatenskap vandag, in die lig van sy latere suksesse en aansienlike mislukkings? Styan dek dit alles in dié fassinerende nuwe blik op Chris Barnard.

Hans-Nazi's: 'n Bernie Günther Speurverhaal

by Philip Kerr

Berlyn, 1936. Hardebaard speurder Bernhard – “Bernie” – Günther word deur ’n miljoenêr-sakeman ingeroep om die moord op sy dogter en skoonseun op te los en waardevolle juwele wat tydens die inbraak gesteel is, te vind. Gewoonlik is Günther op die spoor van vermiste persone, maar in dié onstuimige politieke klimaat betree hy ’n donker onderwêreld waar misdaad, korrupsie en onderhandelinge met Nazi-leiers aan die orde van die dag is. Sy soektog ontbloot ’n skandaal wat hoëkoppe soos Hermann Goering en Heinrich Himmler betrek …Smerige nagklubs, smeulende filmsterre, oorvol lykshuise en onderonsies met die Gestapo lei uiteindelik tot ’n skokkende onthulling. Die roman speel af in Nazi-Duitsland – ’n milieu wat Kerr met vernuf skets.Dié Afrikaanse uitgawe van March Violets is die eerste boek in Kerr se Berlin Noir-reeks, sy eerste Bernie Günther-trilogie. Vertalings van die volgende twee romans in die reeks, The Pale Criminal en A German Requiem, verskyn in 2019.

Doodsbleek (Berlin Noir)

by Philip Kerr

In Die bleek oortreder moet die gesoute speurder Bernie Günther ’n reeksmoordenaar vastrek wat paniek regoor Berlyn saai.Dit is 1938 en Duitsland wag angstig op die bevindinge van die München-konferensie. Onsekerheid hang in die lug: Hitler kan Europa dalk in ’n oorlog dompel. Vir Bernie is daar egter belangriker sake wat aandag verg. Hy ondersoek twee sake waar afpersing betrokke is: die een betrek ’n ryk weduwee, en die ander, homself.Terselfdertyd het dit op die lappe gekom dat die Kripo – Berlyn se misdaadpolisie – ’n onskuldige Jood gearresteer het vir die reeks wrede moorde in die stad. En hoewel die Kripo dié keer alles sal doen om die regte moordenaar vas te trek, is hulle weereens nie verhewe bo afpersing en manipulasie nie. Omdat Bernie onlangs aangestel is as Kripo-kommissar, moet hy die raaisel oplos – ’n ondersoek wat hom uiteindelik aan die heel donkerste kant van die menslike psige blootstel.Hierdie vertaling van The Pale Criminal is die tweede boek in Philip Kerr se Berlin Noir-trilogie, nou vir die eerste keer beskikbaar in Afrikaans. Die vertaling van die derde boek in die reeks, A German Requiem, verskyn in 2019.

Doodslied vir Duitsland (Berlin Noir)

by Philip Kerr

As ’n polisieman in Berlyn het inspekteur Bernie Günther reeds vroeg in die 1930’s met boosheid kennis gemaak. Nou, in 1947, is die Tweede Wêreldoorlog verby en Bernie – ’n gesoute privaatspeurder – moet die moord op ’n Amerikaanse Nazi-jagter ondersoek. Maar daar is een gróót probleem: die vermeende moordenaar is een van Bernie se oudste vriende, ’n kollega uit sy Kripo-dae. Moet Bernie sy lojaliteit aan sy vriend bewys, of eerder seker maak dat reg en geregtigheid seëvier? Maar skuil daar nie dalk meer agter hierdie vreemde saak nie?In Wene, ’n eens weelderige stad wat nou in puin lê na afloop van die oorlog, volg Bernie verskeie leidrade wat almal na een verdagte lei: ’n oud-Gestapo-hoof met ’n lys van wandade wat die vergrype van die oorlog na kinderspeletjies laat lyk … Doodslied vir Duitsland, die Afrikaanse vertaling van A German Requiem, is die laaste boek in Philip Kerr se Berlin Noir-trilogie, sy historiese speurreeks wat wêreldwyd ’n topverkoper is.

Refine Search

Showing 51 through 75 of 87 results